Baie boere ervaar ‘n kleiner wordende winsmarge weens droogte, lae produksiepryse en hoë insetkostes. Dit dwing hulle om kostes tot op die been te sny. Die eerste slagoffer is gewoonlik voortgesette investering in grondvrugbaarheid. Laat my asseblief toe om te verduidelik hoekom dit die verkeerde benadering is.
Landbou is te afhanklik van insette wat aanleiding gee tot lae winsmarges. Die hoofoorsaak daarvoor is dat simptome aangespreek word, sonder om aandag te skenk aan die onderliggende oorsake daarvan.
Die gebruik van anorganiese kunsmis stimuleer verhoogde aktiwiteit in die bakteriële gemeenskap en veroorsaak dat grondkoolstof vinniger verbrand word. Sonder genoegsame aanvulling van organiese materiaal verloor die grond gaandeweg koolstof en verarm. Soos koolstof verlore gaan so ook verminder die beskikbaarheid van voedingstowwe en minerale. Selfs boere wat bewaringslandbou toepas, kan ‘n netto verlies in grondkoolstof ervaar as gevolg van die gebruik van anorganiese stikstof. Die gebruikseffektiwiteit van oesreste is tipies 8% en laer. Slegs ‘n klein deeltjie van die oesreste bly uiteindelik in die grond oor. Die res beland in die atmosfeer.
Ook die grondstruktuur en mikrobiese aktiwiteit gaan agteruit soos koolstof verlore gaan. Kompakte grond met weinig suurstof, bevoordeel patogeniese grondorganismes wat anaerobiese kondisies verkies. Die gunstige aerobiese organismes se getalle neem so af dat dit nie patogene natuurlik kan beheer nie. Die gebruik van gifstowwe help ook nie, inteendeel dit vererger die wanbalans wat `n nare kringloop van verhoogde gifstofverbruik veroorsaak.
“Goeie grond het minder stikstof nodig, arm grond meer”, sê Prof. Richard L Mulvaney (1). Hoe meer toedien word, hoe meer verarm die grond. Die gemiddelde gewas gebruik minder as 20% van die bygevoegde stiktof (2). Die res verwoes ons grond, besoedel ons grondwater, oseane en atmosfeer.
Vra jouself af: Hoekom het jou gewas al die insette nodig terwyl ‘n soorgelyke plant in sy natuurlike habitat dit nie nodig het nie?
Dink sommer ook aan die voedingstofdigtheid van die gewas wat jy produseer. Voedingswaarde en rakleeftyd hang af van die kwaliteit van die organiese komponente waarin die minerale ingebou word. Die komponente is eenvoudig in `n suiwer chemiese benadering en baie meer kompleks in `n meer organiese benadering. Dit het ‘n direkte impak op die gesondheid van mense wat die produkte verbruik. Voedingstowwe en ‘n wye verskeidenheid minerale word benodig deur die immuunstelsel. Die hoë voorkoms van kanker is grootliks die gevolg van ‘n swak kwaliteit voedsel.
Dit is tyd dat ons inkeer en ons impak erken en begin verantwoordelikheid neem vir die plaas, gemeenskap en die groter omgewing. Indien nie jy nie, dan wie? Indien nie nou nie, dan wanneer?
Gelukkig is daar is ‘n baie beter en veel meer winsgewende manier om te boer met minimale gebruik van gifstowwe en kunsmisse.
Bronne:
- https://www.no-tillfarmer.com/articles/6783-excessive-n-application-burning-the-carbon-pool
- Dourado-Neto, D.; Powlson, D.; Abu Bakar, R.; Bacchi, O.O.S.; Basanta, M.V.; thi Cong, P.; Keerthisinghe, G.;Ismaili, M.; Rahman, S.M.; Reichardt, K.; et al. Multiseason recoveries of organic and inorganic nitrogen-15 in tropical cropping systems. Soil Sci. Soc. Am. J. 2010, 74, 139–152